Wanneer word ’n Toeris ’n Reisiger?

Om ’n toeris te wees, is amper so erg soos om ’n terroris te wees, seg die slim mense. ’n Toeris is ’n verbruikende, verorberende, inslukkende zombie, wat ’n plek se besienswaardighede besoek en daarvandaan weggaan sonder om ’n snars van die plek te verstaan. ’n Reisiger, aan die anderkant, drink die plaaslike kultuur soos ’n fynproewer in.

Ek was onlangs ’n toeris in New York.

pineapple-guy
Times Square

Glo my, ’n stukkie seeskuim, à la die einde van Die Klein Meerminnetjie, is al wat jy drywend op die mensemassa van Times Square kan wees. Meestal kom jy net ander toeriste teë, wie se bekke nes joune oophang oor die wolkekrabbers wat op- en opstrek, oor die man wat met ’n pynappel op sy kop rondloop (kyk mooi op die foto hierbo) en oor die vrou wat, met net ’n deurtrekkertjie aan, pronk met ’n N op haar een en ’n Y op hon-top-of-the-rockaar ander … um … wang (ongelukkig geen foto daarvan nie).

Dok jy $35 op om die sewentig verdiepings met die Rockefeller Gebou se hysbak op te ry, is toeris ook al wat jy bly. Met Amerikaanse effektiwiteit (“stay two-two in line, guys, there are many people; click-click, snap-snap,”) kry die gidse die mensemassa bo. On Top of the Rock stel almal net in een ding belang: ’n selfie met die Empire State in die agtergrond.

Kyk, oyouve-got-mailns het probeer om ware reisigers te wees. Toe ons, kinders  van Afrika wie se siele deur die ruimte gevoed is, die gedrang nie meer kon vat nie, hop ons by Central Park van die rooi Hop-On-Hop-Off bus af. Ons missie is om Café Lalo op te spoor, waar Tom Hanks en Meg Ryan hulle groot uitval in You’ve Got Mail gehad het. Dis mos nou iets oorspronkliks, sê ek ingenome vir my man en kinders.

Vuurhoutjies.jpgHelaas, ook hier, was ons steeds net toeriste. Amper twintig jaar nadat dele van die fliek in die restaurant geskiet is, pryk foto’s uit die film steeds buite die restaurant. Lyk of Nora Ephron se fliek ’n lekker meevallertjie vir die restaurant was. Die plek was oorvol, maar die diens flink; my frittata was skaflik, die olywe wat my seun uit my bord gesteel het, glo heerlik en die cappuccino baie lekker. Ek het darem ’n vuurhoutjieboksie met die restaurant se naam op gratis en verniet gekry. Niks om oor huis toe te blog nie. Die pizza en tiramisu wat ons die volgende dag by Capizzi, ’n restaurantjie so groot soos ’n skoenboks, in Hell’capizzis Kitchen, geëet het, was onthoubaarder.

Terug by die huis in Maryland na ons baie duur New Yorkse ekskursie, het ek bly wonder hoe ek minder van ’n toeris kon wees en meer van ’n reisiger. Ek het onthou van die Franse gesin wat On Top of the Rock ’n foto van ons gesin geneem het. Ons het die guns vir hulle terug bewys. Toe het die pa en die ma, nie meer bloedjonk nie, ’n selfie geneem waar hulle mekaar soen. Goed, goed hulle het gesorg dat die Empire State mooi in die foto was. Maar mens kon sien hoe bly hulle was om saam dáár te wees. Het hulle net so lank soos ons aan hulle reis New York toe beplan?

Ons Saterdag in New York was maar bedremmeld omdat dit onverwags begin reën het. Inderhaas moes ons vier $5 sambrele gekoop, waarmee ons lam-arm kilometers ver deur Central Park moes loop. Toe ons nou heeltemal pootuit was met almal se geïrriteerdheid so hoog soos On Top of the Rock, tref ’n wonderbaarlike reuk ons. Ons kyk rond en sien ’n stalletjie, waar ’n man versuikerde neute braai. Ons koop ’n $3 pakkie amandels en so onder ons swart sambrele smul-smul ons tot by die busstop. Daardie warm neute, sê my meisiekind later, was die lekkerste ding wat sy al ooit geëet het. Sy was so moeg en die neute was net wat sy nodig gehad het.central-park

Nou weet ek wat maak van jou ’n reisiger – die gedeelde herinneringe, die agterna se gelag oor almal se senuwees klaar was dat ons op die verkeerde trein sou beland, die opwinding oor die eerste rit met Uber, die neute in Central Park.

Vat die pad saam met jou geliefdes – dis hulle wat van jou ’n ware reisiger maak.

Die dag toe jy Eric die Verskriklike bang gery het

Om ewe skielik aan die regterkant van die pad te kry, is soos om met jou dom hand te probeer skryf. Alles voel verkeerdom. Karre kom skielik van die vinnige kant af en verkeersirkels veroorsaak kopkrap. Die grootste moeilikheid kom as jy draai. Jy maak vir jou rympies op om te help. Links is slap, want dis ’n wye draai; regs is skerp, want dis ’n kort draai.

Vir eers ry jy met jou internasionale rybewys rond, maar jy kom gou agter die Yanks gebruik hulle kredietkaart-grootte bestuurslisensie soos ’n ID boek. Jy het daardie plastiekkaartjie nodig. Die dag van jou bestuurstoets is ’n tiener voor jou in die ry. Die toetsbeampte, ’n groot man in sy X-as én Y-as, het ’n elektroniese tablet en ’n pennetjie in die hand, sy gesig glimlagloos. Voor jou benoude oë dop hy die tienerseun.

Met die verslae gesig van die seun in jou geheue vasgebrand, laat sak jy jou kar se ruit vir die toetsbeampte. Sy naam is Eric, sê hy. Jy verbeel jou jy sien sy Viking voorsate in sy koel oë en rooierige hare. Tablet in die hand neem hy stelling voor jou kar in. Hy sê iets. Jy kan nie hoor nie. Jy probeer sy lippe lees. Uiteindelik verstaan jy. Hy wil hê jy moet die noodligte aansit. Maar o gonnatjiegriet, jy het nie ’n benul waar sit dié in jou Amerikaanse karretjie nie. Vervaard soek jy rond.

Voor jou kar staan Eric glimlagloser en glimlagloser. Uiteindelik kom hy aangestap, druk sy vinger deur die oop ruit en wys na die rooi driehoek op ’n knoppie. As die knoppie ’n slang was, het hy jou gepik.

“Ek is nie hier om jou hand vas te hou nie,” sê Eric met norse Noorsheid in sy dik Amerikaanse aksent.

Jy doop hom Eric die Verskriklike.

Toe hy uiteindelik aan die anderkant van die kar kom staan, dog jy hy klim seker nou in en sit solank die kar aan. Eric die Verskriklike trap jou uit dat die Noordsee jou nie kan afwas nie.

“Jy sit nie kar aan tot ek sê nie,” beduie hy.

Teen dié tyd weet jy, hier kom ’n groot gemors.

Hy klim in en wys jy moet gaan parkeer. Wonder bo wonder tru jy foutloos tussen die oranje paaltjies in. Jou senuwees bedaar bietjie.

Die toetsrit neem jou deur stillerige agterstraatjies. Eric maak hy kort-kort merkies op sy tablet. Op een plek vra hy jou wat die spoedperk is. Jy kroek en lees “35 myl per uur” van jou GPS af. Hoekom ry jy dan net 25 myl per uur, wil die Viking weet. Want jy ken nie die pad nie, jy ken nie die land nie, jy ken nie die verkeerdom ry nie, wil jy vir hom sê, maar jy hou jou mond.

Vandag beskou jy jouself as ’n skroplap, wat vuil water opsuig. Eric kan die water maar gooi, jy sal dit opsuig, want jy wil met daardie gesogte plastiekkaartjie huis toe. Na die vrot begin, gaan dit beter. Jy gaan dit tog maak, begin jy dink.

En toe tref jy die kruising.

“Draai hier regs,” blaf Eric die Verskriklike.

Jy vergeet al jou rympies en draai soos wat jy al meer as dertig jaar op ’n pad sou draai.

“Stop,” skree Eric.

Jy kyk verbaas na hom.

“Jy is aan die verkeerde kant van die pad,” lig hy jou in. “En ek neem nou hierdie voertuig oor.”

Toe jy besef die plastiekkaartjie is in sy maai in, neem ’n bowêreldse kalmte van jou besit. Koelkommer sit jy jou wit karretjie in parkeer, sit nog sowaar die noodligte, wat jy netnou nie kon kry nie, aan, en klim versigtig uit. Agter die kar kruis jy en Eric mekaar se paaie sonder om oogkontak te maak. Van voor af kom die karre aangeswiep, die ene blasende toeters. Jy sit aan die passasierskant en sien hoe Eric sukkel om sy y-as en sy x-as agter die stuurwiel in te kry, omdat hy nie die hefboompie in die hande kan kry om die sitplek terug te skuif nie.

Hy is nie meer Eric die Verskriklike nie, hy is Eric die Verskrikte, want sien, tussen hom en die regte kant van die pad is ’n tamaai opgeboude eiland. Hy sal ’n ver ent moet agteruit en hy staan stroomop in die heel vinnigste baan. En die karre kom en die karre toet, en tik-tok, tik-tok sê die noodligte.

In jou taal bestaan die woord leedvermaak. In sy taal het hy darem toegang tot die Duitse leenwoord Schadenfreude. Mens kan dit wat jy toe gevoel het seker gloating noem, maar dié woord vang nie jou in-sonde-ontvang-en-gebore-en-geneig-tot-alle-kwaad LEKKERKRY mooi vas nie. Toe Eric die Verskrikte uiteindelik die kar aan die regte kant van die pad het, is hy so mak soos ’n lammetjie. Op pad terug na die toetskantoor gee hy selfs vir jou wenke en komplimente. Eintlik ry jy baie goed, maar hy dink jy moet net nog ’n bietjie oefen.

Foto-van-MH-lisensieBy die huis gaan tjank jy jou stukkend, dalk ook omdat jy huis toe verlang. Maar jou soort is kaalvoet oor die Drakensberge en klim dadelik weer op ’n perd as hulle affoeter. Vir ses weke bestuur jy die kar as jou gesin kerk toe gaan in Washington se middestad. So raak jy mak vir verkeerdom verkeer.

Toe jy weer vir die bestuurstoets gaan, gewaar Eric jou waar jy in die ry wag en jy sien hoe skrik hy sy y-as én sy x-as af en hoe duik hy agter sy tablet in. Of hy dit so bewimpel het, weet jy nie, maar jy tref hom nie weer as toetsbeampte nie en kom lag-lag deur die toets. Toe jy met die plastiekkaartjie in die hand by die deur uitstap, is jy spyt jy het hom nie weer raakgeloop nie, net sodat jy die rybewys voor sy neus kon rondswaai en pê-whê kan sê. Leedvermaak is ‘n lelike ding, maar, maar aai, hy is ’n lekker ding.

7 Snaaksighede van Amerika

1Jy mag oor rooi robotte ry

Nee, jy hoef nie die brandweer of polisie te wees nie. Gewone mense mag. Maar net as jy gaan regs draai. En nadat jy gestop en gekyk het of daar nie ander karre aankom nie, veral nie onverwags van die oorkant af nie. Eers het dié reëling jou lekker deurmekaar gemaak en baie Amerikaners het vir jou toeter geblaas. Tot jy die hele situasie in jou kop na Suid-Afrika toe terugverplaas het: verbeel jou jy staan en wag om links te draai  by ’n rooi robot. As niemand van oorkant af wil regs draai nie, gaan die verkeer mos beter vloei as jy solank draai.

Terug in Amerika moet jy egter mooi kyk, want partykeer kruip ’n wit bordjie iewers weg, wat jou met swart letters verbied om op rooi te draai. Amerikaners is alte lief daarvoor om lange boodskappe uit te skryf in plaas daarvan om simbole te gebruik. En o, ja,  as jy ooit eendag in New York bestuur, moet jy onthou daar mag jy glad nie op rooi draai nie.

 

2Daar is vreeslike en vreemde fauna cardinal

  • steekvliegies wat so seer steek jy kry hoendervleis as jy net aan hulle dink
  • reusagtige krieke met laaang voelers wat jou in die nag in die badkamer inwag (grr)
  • eekhorings met selfmoordneigings wat voor jou kar inhardloop of wat hulleself soos wafferse sweefstok artieste op die kragdrade balanseer
  • chipmunks wat jy nog nooit regtig kon sien nie, so vinnig hol hulle en
  • rooiveervoëls wat in die somer hulle lieflike opwagting maak.

Maar jou gunsteling is die vuurvliegies, wat ook in die somer uitkom, en wie se stertliggies aan- en afgaan soos hulle skemertyd begin rondfladder.

 

3Goed is GROOT, baie groot tissues

Melk, mayonnaise en brandstof koop jy in gallonne (een gallon is amper vier liter), antihistamien kan jy tot eenduisend pilletjies op ’n keer koop en snesies kom in pakke van tien bokse. Jy het eenkeer gehoor hulle wou Suid-Afrikaanse vrugtesap Amerika toe uitvoer. Dit sou nou regtig ’n puik idee gewees het, want Yankvrugtesap kom nie naby dié van jou Suiderland nie, maar die reuse hoeveelhede wat nodig was om in die Amerikaanse mark in te kom, was ’n groot probleem. Amerika voel baie keer vir jou soos Makro …  op steroïede.

 

4Jy het nog nooit so koud óf so warm gekry niekoue

Die koudkry het jy, vir wie sneeu vreemd is, verwag. Maar hitte is ’n onaangename verrassing. Aan die oostekant van die land, waar jy bly, is humiditeit die groot probleem. In jou tweede somer in Amerika het jou plaaslike biblioteek vir jou ’n e-pos gestuur om te sê as jy dit nie kan uithou met die hitte nie, jy maar amptelik in die bib kan kom afkoel. Dan moet jy maar weet die temperatuur gaan raak-raak aan veertig grade met die humiditeitsvlak meer as 90%.

 

5In party opsigte is Amerika baie outyds

Tjeks skryf mense hier nog dikwels uit en gooi dit in die pos. Die posdiens werk uitstekend en jy het al tot vier groot sitkamerstoele oor die pos bestel en die vier bokse het soos brandwagte van ouds ongemolesteer in die sneeu in die oprit jou ingewag. Elektroniese bankdienste bestaan, maar is nie naastenby so flink gerat soos in Suid-Afrika nie. Vir party banke beteken “elektroniese betaling” jy stuur vir die bank ’n e-pos met ’n betaalopdrag en hulle gooi dan namens jou ’n tjek in die pos. En skielik maak sommige Amerikaanse banke se logo’s, soos die een hieronder, meer sin.wells-fargo-logo1

 

 6Amerikaners is pragmaties en vindingryk

Baybridge

Op die pragtige Bay Bridge, waaroor jou gesin graag ry, wissel hulle die gebruik van ’n middelbaan na gelang van die hoeveelheid verkeer. Vrydagmiddag as almal kus se kant toe koers kies, loop die middelbaan se rigting na die kus, Sondagmiddae swaai dit om. By ’n winskoopwinkel het jy die oulike idee gesien dat kopers ’n muntstuk in ’n gleuf in die winkelwaentjie stop om dit los te maak. Sodra jy die waentjie terugneem na die ry, laat los ’n meganisme weer jou muntstuk vir jou. ’n Slim manier om almal sover te kry om die waentjies terug te vat.

 

7Elke huis het ’n gorrelgat

trolDis jou gesin se woord vir die versnipperaar wat in die drein van die kombuiswasbak ingerig is. Sit jy hom aan, maak die ding onaardse geluide wat jou laat vermoed daar bly ’n trol in die pype, wat eendag nog iemand se vingers gaan afkou. Teen dié tyd weet jy mens kan baie goed in die trol se gorrelgat gooi en hy sal dit met graagte verorber, maar kersiepitte doen hy nie.  Dit laat sy ratjies vasdraai en dan gaan staan hy botstil. En dan moet iemand (en dis gewoonlik ’n dikbeklid van die manlike geslag in jou gesin) regtig sy hande daar indruk en die pitjies een vir een uitvis.

As jy die bal lekker ver misslaan

Baseball is maar ’n saai spulletjie, want sien, hulle slaan selde die bal raak. Dit ontdek jy tydens jou eerste baseballwedstryd op ’n snikhete someraand in Julie. Op die tamaai skerm in die stadion flits hulle vir jou die gooispoed van die bal. Van die vinnigste balle kom teen 100 mph (160 km/h) op die stomme slaners aangestorm. G’n wonder hulle slaan mis nie.

Om die toeskouers ten spyte van al die misslanery begeesterd te hou, is daar die klein vermaak. Op smal adverteerstroke reg rondom die stadion, sowel as op die grootskerm verskyn opdragte soos “get loud” of “get on your feet” op oomblikke wat die entoesiasme kan begin taan. Dis seker vir toeskouers wat nie seker is wat van hulle verwag word nie. ’n Dawerende elektriese orrel of klipharde tromme blaas kort-kort die koors nog hoër.

Presidente-van-bietjie-verder

Halftyd, en met baseball se nege kolfbeurte is daar agt halftye, trippel oorgroot presidentpoppe op die veld en jaag resies teenmekaar (Lincoln het gewen toe jy die aand in Washington was), pette word uitgeloof vir mense wat obskure baseball-feite ken of balle word die skare ingeslinger, wat jong entoesiaste daarvoor laat skarrel soos honger hiënas by Skukuza se grensdraad vir ’n been sou baklei. Die reuk van hotdogs wat opstu, het baie mense tussendeur die misslanery laat opstaan om hulle honger te stil by die stalletjies met hulle oorgeprysde kos agter in die pawiljoen.

Soos van Rome se bekendste gladiatore word die spelers soos demigode behandel. Elke keer as een sy beurt kry om mis te slaan, speel sy gunsteling musiek terwyl ’n reeks beelde van hom in atmosferies-stadige-aksie oor die grootskerm rol. Die musiekkeuses wissel van rap, country, rock, pop tot gospel. Dit lyk of die ouens wat die bal in die ver veld moet vang bietjie verveeld raak en dan kou hulle maar kougom.

Seker maar om wakker bly, blaas party ook ’n paar kougomborrels. Die bal word so min kere raakgeslaan dat die vangers meestal onverhoeds betrap word. Terwyl ’n reuse kougomborrel by hulle monde uithang en aan hulle neuse vasklou, vang hulle onder sulke omstandighede nietemin ewe behendig die bal. Die toeskouers moet baie van die kougom hou of dalk is die kougommakers een van die borge, want die vangaksie word direk daarna op die grootskerm uitgesaai, terwyl die kamera inzoem op die gesig met sy kougomlel. Welkom in Amerika.

Grootskerm

Die ou langs jou, in ’n blou T-hemp en pet, het verrassend genoeg vir die … blou span geskree. Hulle was die besoekers. Dit het hom nie baie gewild by die tuisskare, wat meestal rooi gedra het, gemaak nie. Die ou-in-blou was min gespin, want hy het duidelik voor die wedstryd al in van die restaurante om die stadion gekuier. Hy het ’n dik Kubaanse sigaar by hom gehad, wat hy nie aangesteek het nie, maar elke keer senuweeagtig begin kou het as een van die rooies dit tog regkry het om die bal raak te slaan. Om hom verder met sy senuwees by te staan, het hy elke keer as die verkopers, met hulle ware vasgegespe op hulle mae verbykom, nooit water gekoop het nie, maar bier.

Zen-tuintjie

Vir jou was die mooiste oomblikke van die wedstryd toe harkdraers opdraf en die speelveld, wat van grond gemaak is, eers weer mooi netjies hark. Miskien omdat jy, stippeltjie tussen 40 000 mense op die pawiljoen, na drie ure van voortdurende lawaai en beweging na ’n stil, serene Zen tuintjie begin hunker het. Amerika is nie vir introverte nie.

Familie binne goue rame

Collage

“Dag, Neef, en hoe gaan dit nog met jou?”

Dis wat jy elke keer vir so baie van die gesigte, wat jy agter hulle goue rame by die National Gallery of Art se raakloop, wil sê. Dié kunsmuseum is deel van die Smithsonian museums in die middestad van Washington DC en is ’n juweel. Boonop ’n gratis juweel, want die Engelsman wat die Smithsonian aan die Amerikaners nagelaat het, se voorwaarde was dat geen besoeker toegang tot die museums moet betaal nie.

Ek moet meer kere hierheen kom, sê jy elke keer wat jy die trappies na die kunsmuseum opklim. Maar dit is nogal ’n storie. Van jou huis af moet jy die vyftien kilometer tot by die naaste Metrostasie ry, tien dollar betaal vir parkering en dan drie dollar om met die trein tot by die Smithsonian Stasie te ry. Is jy eers op die trein, vat dit seker so vyftien minute. Dan is dit nog twee kilometer se loop tot by die kunsmuseum.

Laaskeer toe jy daar was, het hulle aan die Metro gewerk en jy het jou tienerseun tot in die stad laat bestuur en ’n hele twintig dollar betaal vir die ingedrukte ou parkeerplekkie wat jy die vorige aand al oor die internet moes bespreek. Van dié vreeslike bedrag vergeet jy egter as jy op- en opstaar na die allemintige Romeinse pilare buite die gebou. Dan stoot jy die houtdeure met die leer aan hulle binnekante oop, wys vir die wagte jy het niks gevaarlik in jou handsak nie, stap die gebou in en meteens bevind jy jou in ’n koel, ordelike tempel.

Nie naastenby so besig soos die Louvre of ander kunsmuseums van die wêreld nie, bied die National Gallery of Art aan jou die grootse voorreg om reg voor van die Weste se grootste kunsskatte te mag staan. Omdat dit nie so besig is nie, kan jy ook so lank as wat jy wil ’n gunsteling skildery bekyk. As jy gelukkig is, is daar selfs sitplek op die rooileerbankies in party van die sale. Van Gogh se blouste blou selfportret, Cézanne se seun met die rooi onderbaadjie, Degas se vier rooikop balletdansers – almal daar.

trappe-sonder-mense

Gaan jy af met die trap, laat gly jy jou hand oor die gladde, koel gekartelde marmerreling om die beeldhouwerk op die onderste verdieping te gaan geniet. Monti se manjifieke marmerbul teken kunstenaars, wat sommer plat op die grond sit, graag af. En die lig val so presies, so reg op die Magni se lesende meisie, jy wil net daar bly staan en die prentjie indrink.

Middagete by die museum se kafeteria-restaurant is ’n ekstra bederf. Hier is dit self inskep en jy kan soveel van die hoenderslaai vat as wat jy wil en die ou Amerikaanse brandrissiesous los. En bonus, as jy ’n botteljie wyn koop, kry jy ’n regte-egte wynglas en nie in ’n plastiekbekertjie soos die pragmatiese Amerikaners maar alte graag gebruik nie. Wyn uit die Kaap is daar nooit by die museum nie, maar die Chardonnay uit Kalifornië is skaflik.

liggietonnelVoor jy deur die duur, maar bitter mooi museumwinkeltjie terugstap na die kunswerke, is dit tradisie om eers oor die liggietonnel-roltrap na die moderne kunsmuseum te ry. Dit gaan net oor die ry soontoe, want jy is ’n pleb en die moderne kuns, waar jy eers die titel moet lees voor jy verstaan wat de duiwel die kunstenaar probeer doen het, is vir jou lelik.

Van al die wonderlike skatte in die museum is die sale vol Nederlandse kunstenaars vir jou die hoogtepunt. Die mense in die goue rame lyk dan nes jou familie doer aan die suidpunt van Afrika. Die wit kragies staan gestyf om die nugter Nederlandse gesigte. Beplooide omies, wat nes jou oupa-van-die Kaap lyk, pynlik-netjiese kamers en werwe en die blink oë van mense wat die wêreld wil sien, pronk op die groot name se skilderye: Vermeer, Rembrandt, Reubens.

“Dag, Neef,” wil jy elke keer sê as jy hulle sien.

En dan belowe jy jouself om solank as wat jy in Amerika bly, weer en weer na die museum te kom. Al kos die parkeerplek R300.

Suiderson se skyn

Suiderson-reg-vir-intrek

In jou eerste winter in Amerika vang helderoranje lemoene jou oog in die koswinkel. Jy gewaar die Outspan logo en jou maag maak so ’n walletjie. Jy tel die sakkie met die ses lemoene op en gedoriewaar Product of South Africa sê die etiket. Jy dink aan jou Suiderland se lemoenstreke en wonder vanwaar hierdie halfdosyn kom. Die Gamtoosvallei? Levubu? Groblersdal? Jy gaan hulle koop, besluit jy. Maar dan sien jy die lemoene kos ses dollar en jy huiwer.

In jou eerste winter in Amerika dink jy nog in rande en nie in dollars nie. Jy maal nog alle pryse met vyftien, skrik jou as af vir die som se antwoord en koop niks. In randwaarde gaan hierdie ses sitrusvruggies jou R75 uit die sak jaag. In Suid-Afrika sou jy nooit R12.50 vir één lemoen betaal het nie. Jy sit die sakkie terug en laai net noodsaaklikes in jou waentjie: brood, toiletpapier, melk. Maar aai, die Outspan lemoene roep jou. Uiteindelik gee jy in en gaan haal die kosbare vraggie.

In jou eerste winter in Amerika het jy nog nie geweet van die Big Mac hamburger-indeks nie. Maak nie saak in watter land dit gemaak word nie, McDonalds se Big Mac bestanddele is streng gestandariseer, maar word plaaslik aangekoop. So kan mens ’n Big Mac burger as standaard gebruik om die koopkrag van ’n geldeenheid vas te stel. Volgens dié indeks is ’n dollar tans gelykstaande aan vyf, nie vyftien nie, rand. Die Suid-Afrikaanse geldeenheid is op die oomblik glo 60% onderwaardeer. Miskien is dit wat gebeur as ’n regering musical chairs met Ministers van Finansies speel.

In jou eerste winter in Amerika ontdek jy nog produkte uit Suid-Afrika. Rooibostee kry mens oral. Jy kan selfs oor Amazon kitskoppietjies rooibos vir jou Keurig masjien bestel. Die Amerikaners is lief om vrugte- en speseryegeure by hulle rooibos te gooi. Die Amerikaners is lief om vrugte- en speserygeure by álles te gooi. In die herfs as hulle pampoenspoke uitsny, smyt die Yanks tot in hulle koffie speserye.

In jou eerste winter in Amerika is die rak met internasionale produkte jou gunsteling. Daar is nie ’n spesiale rak vir Suid-Afrika nie, maar op die Britse rak kry jy Aero sjokolade, appelkooskonfyt en dik stroop, wat van regte suiker en nie van mielies nie, gemaak is. Weggesteek tussen die produkte van Jamaika spoor jy Nando se Peri-Peri sous op. Jy hou nie van goed wat jou mond brand nie, maar partykeer loop jy spesiaal na die Nando souse toe net om die botteljie om te draai en bly te word oor die  Made in South Africa.

In jou eerste winter in Amerika kon jy proe hoe soet die suiderson se skyn daardie lemoene gemaak het, baie, baie lekkerder as eniges uit Florida of Kalifornië. Toegegee, jy is bevooroordeeld teenoor jou Suiderland. Jy wil nie hê jou land moet in die nuus wees oor atlete wat hulle meisies agter toe deure doodskiet nie, of studente wat amok maak op kampusse nie of firepools nie. Jy wil hê jou land moet bekend wees vir sy vrugte, sy tee en sy brandsouse. En vir die feit dat hy die suiderson se skyn aan al sy kinders gun. Jy is immers self Made in South Africa.

Die sage met die Amish sago

Sagopoeding-opskrif

As jy die dag niks lus is vir Ingels praat nie, kies jy die selfbetaalpunt in die winkel. Nes jy self brandstof, of soos Amerikaners dit noem “gas”, ingooi in Amerika, kan jy by ’n menslose masjien vir jou kruideniersware betaal. Groot geheim is om die strepieskode op jou produkte op te spoor en dit dan teen nét die regte spoed oor die spieëloog te sleep. Doen jy dit reg, kondig ’n blikstem die prys aan en vermaan jou dan om die produk in een van die oopbeksakkies op die skaal te pak. As jy eers die slag by die betaalmasjiene het, is jy in by die winkel en woerts-warts weer uit.

Maar as jy die dag lus kry vir tuisgemaakte sop, ham sonder preserveermiddels en sagte, soete deegniete (donuts) én jy voel dapper genoeg om Engels te praat, gaan jy na die Amish boeremark in Annapolis. By die Pennsylvania Dutch Farmers Market bedien Amish mense jou van agter toonbanke met groot glasvertoonkaste. Die mark, wat net op Donderdae, Vrydae en Saterdae oop is, is gewoonlik miernesbedrywig.

Elke Amish familie het sy eie toonbank, waar hulle hul ware verkoop. Vind jy ’n toonbank met goeters wat jy wil koop, is die eerste ding wat jy doen om vir jou ’n klein afskeurstrokie met ’n nommer te gaan kry. Die Amish sê ook “fôdee” in plaas van “forty” soos al die ander Amerikaners en as jou oor nog sukkel om te hoor watter nommer hulle uitroep, hou jy die bordjie waarop die nommer staan wat hulle aan die bedien is stip dop.

Terwyl jy al langs die glastoonbank afstap, maak jy in jou kop ’n lysie van die goedjies wat jy wil koop en oefen saggies om die name en die hoeveelhede reg te sê. “Virginia Ham, three pounds.” Jou maag draai soos wat jou nommer al nader kom.

En dan is dit jou beurt. Die jong man met die kommetjie hare op sy kop kyk reguit na jou en vra wat jy wil hê.

“Virginia Ham, three pounds,” sê jy stadig en nadruklik, maar jou tong struikel soos gewoonlik oor die th-klank.

Jy sien hoe die Amish man se Hollandse blou oë rek. “Three pounds?” bevestig hy.

Is dit te veel? Hoekom kan die Amerikaners nie soos die res van die beskaafde wêreld kilogramme gebruik nie? Jy knik.

En dan boul hy jou uit. “Sliced or shaved?”

Jy weet altwee keuses behels ’n lem, maar dis al. Jy frons. Hy wys na rafeltjies ham in die glaskas. “Shaved,” beduie hy. Hy wys na skywe ham. “Sliced.”

A, nou verstaan jy. “Shaved.”

“Three pounds?” vra hy weer.

Jy knik.

Hy prop plastieksakkie op plastieksakkie vol stukkies pienk ham. Nou eers besef jy hoe baie is drie pond. Maar jy hou jou pose.

Presies hoe hierdie karretjiemense die verbode en toegelate tegnologie in hulle lewens balanseer, weet jy nie. Jy is maar te dankbaar hulle vat kredietkaarte, want nou het jy nie nodig om die enerse groen note, wat boonop almal ewe groot is, óók uit te sorteer nie. Om van die munte, waar 5c baie groter is 10c, nie eens te praat nie.

In jou skik stap jy met jou sakkies vol ham weg, baie trots op jouself oor jou eerste aankoop.

Die volgende keer wat jy dapper genoeg voel om Engels te praat en weer by die Amish winkel kom, sien jy by een van die ander toonbanke iets wat baie soos sagopoeding lyk, maar wat ’n heel ander naam het. In jou geboorteland skyn die son nou oor grasvelde, maar hier is dit ’n grysgroue wintersdag met hompe vuil sneeu wat rondlê. Sagopoeding klink salig. Jy gaan skeur vir jou ’n nommer af.

Ta-pi-o-ca, lettergreep jy die vreemde woord oor en oor in jou kop. Nie weer drie pond bestel nie, dis te veel. Jy sien klein, medium en groot plastiekhouers op die toonbank staan en sien hoe een van die bloswang kappienooiens dit vir klante vol boontjiesop en macaroni-en-kaas en ander lekker kos laai. Jy sal vir die klein houertjie vra, besluit jy.

Toe jou beurt kom, is jy oorgehaal, seker daarvan dat jy dié keer goed voorbereid is. “Tapioca, please, one small container.”

“Peach or plain?” vra die Amish meisietjie.

Vir ’n paar lang oomblikke wil jou kop nie lekker vat nie. Sagopoeding is winterkos, wat mens met kaneelsuiker eet as die Hoëveldse koue byt. Perskes is somer se smulgoed, wat mens op die vroegste na ’n drieagtreën in Oktober pluk. Hoekom sal enige iemand perskes in sagopoeding sit?

“Peach or plain?” herhaal die Amish meisietjie ongeduldig. Die tou wagtende mense raak al hoe langer.

“P-plain,” prewel jy.

By die huis maak jy jou sagopoeding in die mikrogolfoond warm en strooi dit dik van die kaneelsuiker. Dit troos bietjie vir die huis toe verlang.